Orania aktiwiteite – Iets vir almal
Orania aktiwiteite te kies en keur
Orania feeste en bedrywighede
Hier gebeur altyd iets nuuts. Ons vier ons eie vakansiedae, herdenk belangrike gebeurtenisse uit ons geskiedenis, en natuurlik kuier ons graag sonder om ‘n verskoning daarvoor te soek! Nietemin is die dorp stil en veilig.
Begeleide toer
Onthou om ‘n bespreking te maak vir ‘n gratis begeleide besigtigingstoer . Kry ‘n geheel-oorsig van Orania se geskiedenis, ekonomie en ontwikkeling, en antwoorde op al jou vrae.
Bekende Bakens
Natuurlik het jy al gehoor van die Koeksister monument! “Ou tannies wat koeksisters en pannekoek bak” was die voertuig waarmee die Afrikaner kon opstaan uit die ekonomiese modder van die 1940’s . Hier is ook ‘n monument vir die Iere wat hul lewens gedurende die Boere-oorloë vir ons neergelê het, en ons huisves die standbeelde van groot Afrikaner leiers uit die geskiedenis.
Nasionale en internasionale uithou-ritte, marathons, en visvangkompetisies
Die droë en warm Karoo is bekend as moeilike terrein onder aanhangers van ekstreme sportsoorte. Orania is ook die tuisdorp van ‘n paar van hierdie taai ‘tawwe tienies’. Wanneer hulle nie elders kompeteer nie, bied hulle gereeld plaaslike kompetisies hier aan.
Lafenis by die swembad en rivieroewer
Wat van kanovaarte, visvang en braaivleis by Sandbaai? Of gaan swem en eet roomys langs die kristalhelder water van die dorp se swembad.
Boere-oorlog geskiedenis
Met die aanvang van die Boere-oorlog was daar meer as 16 000 Britse troepe by nabygeleë Oranjerivier Stasie gevestig, Daar het mettertyd ‘n konsentrasiekamp ontstaan. Daar is vandag ‘n klein museum wat oor die oorblywende gedenkwaardighede, ruines van ‘n blokhuis, konsentrasiekamp en begraafplaas waak.
Lekker eet
Hier is vele kinder-vriendelike restaurante, koffiewinkels, wegneem-stalletjies, en pizzeria’s. Wanneer laas het u pap en lewertjies vir ontbyt gehad? Of ‘n lekker vetkoek met maalvleis! Orania het ook twee mikro-brouerye en ‘n paar laataand-kuierplekke vir die naguile.
‘Dorpsraad’
Die plaaslike regering staan alombekend as die dorpsraad en word gehuisves in ‘n opvallende gebou op Karoosig koppie. Alle siviele, maatskaplike en veiligheidsdienste word van hier beheer. Dis ook waar jy kan aansoek doen om verblyfreg.
Orania Ekonomie
Oraniers kom goed klaar sonder ‘n “mall”. Hier is honderde klein besighede in die dorp en hulle verskaf alles vanaf naald & gare, katkos, sonhoede, gesondheidskos, WiFi, internet en IT dienste, motorbande, tuisgemaakte jogurt, vleis en groente, meubels, kantoorbenodighede en IT dienste, tot handgemaakte sjokelade, breiwol, waterpype … noem maar op.